Begrip

Juffrou Marelize Swanepoel

Hoe eet jy die Afrikaanse olifant? 

Voorbeeldvraestelle vir graad 8 HT en EAT

Versameling formele assesserings wat gebruik of aangepas kan word vir enige graad:

EAT: Taak 2 - Transaksionele teks

HT: Taak 2 - Transaksionele opstel
gallery/formele assessering taak 2(b).docx

EAT: Taak 5 - Transaksionele teks

EAT: Taak 7 - Mondeling

Die opstel van ’n eksamenvraestel volgens Barrett se denkvlakke

Ek het reeds vroeg in die tweede kwartaal besluit om die opstel van my vraestelle anders te benader.  Jy sien, gewoonlik het ek myself onder enorme druk geplaas en al my vraestelle oor ’n naweek probeer opstel.  Die gevolge was dikwels ’n afgerammelde vraestel wat sleg deurgeloop het tydens die modereringsproses by die skool.  My rooi gesig was beslis my verdiende loon.  Agternaperspektief is ’n wonderlike ding, die probleem is egter dat dit te laat kom.

Tog moet ek bieg dat ek nie hierdie keer met ’n rooigesig gesit het nie.  Hierdie keer is my agternaperspektief  heel insiggewend.  Ek het besef hoe baie ek die opstelproses geniet, dat ek aansienlik trotser was op die eindproduk.  Dit was ’n aangename uitdaging om gepaste tekste vir my vraestelle te soek.  Die gevolg was ’n tema wat vanaf Afdeling A deurgetrek kon word.  My benadering gaan aan die hand van my graad 8 Huistaal (HT) en Eerste Addisionele Taal (EAT) verduidelik word:

Graad 8 HT
Tema:  Eksperimente – Experi-Maatjies en Nadia en die Funky eksperiment

Graad 8 EAT
Tema:  Monster-goggas van Koos Kombuis

Die soektog na die regte tekste is belangrik, maar hierdie keer het ek nie daar begin nie.  Hierdie keer het ek met my spreekwoordelike berg begin:  Barrett se denkvlakke.  Groot was my verbasing toe ek besef dat ek hierdie Barrettberg eintlik maklik klim.  My grootste fout was om altyd eers my vrae uit te werk en dán te kyk watter denkvlakke hulle was.  Ek het uiteindelik besef dat Barrett se plek nie aan die einde van die proses hoort nie, maar eerder een van die eerste stappe moet wees.  Ek was genoodsaak om my benadering te verander.  Ek moes teruggaan en my beplanning hersien.

Ek preek dikwels oor die belangrikheid van beplanning  wanneer my leerders skryf opdragte aanpak ... en daar gaan staan en vergeet ek my eie preek.  Ek dink nie almal besef hoeveel beplanning en wérk in ‘n opgestelde vraestel ingaan nie.  Dis om hierdie rede dat daar vir jou gelag word as jy nie kan wag om ’n opgestelde vraestel te merk nie.  Wie word nou opgewonde om begrip-, taal- en letterkunde-vraestelle te merk?

Beide vraestelle het my afsonderlik sewe dae geneem om te finaliseer, dis nou moderering uitgesluit.  Hierdie veertien dae was nie sielsdodend gewees nie.  Ek het uitgesien na elke stap wat ek tydens hierdie opstelproses gevolg het.

Daarom nou die doel van hierdie artikel:

Watter beplanning is nodig om ’n goeie vraestel op te stel waarin Barrett nie net ’n moeilike nagedagtenis is nie.  Elke stap sal later in meer detail hanteer word.  Hier volg die stappe wat ek gevolg het:

Stap 1:            Raadpleeg jou KABV-dokument en interne riglyne ten opsigte van vraestelvereistes.

Stap 2:            Bepaal hoeveel vrae vir elke denkvlak in elke afdeling opgestel moet word.

Stap 3:            Spoor nodige tekste op vir elke afdeling wat ’n teks vereis.

Stap 4:            Stel ’n vraagbank op vir elke denkvlak wat vereis word.

Stap 5:            Kies nou die beste vrae uit jou vraagbank om die puntetelling op te maak.

Stap 1:  Raadpleeg bronne vir vraestelvereistes

Ons het die volgende vraestelriglyne (van Niekerk, 2016) by ons departementshoof ontvang ten opsigte van graad 8 vraestelle:

 Graad 8 HT + EAT                         2 uur elk                         

Afdeling A             20 punte                Begrip                         

Afdeling B             30 punte                Taal                         

Afdeling C             30 punte                Letterkunde                           

80 ÷ 2 = 40 punte op puntestaat  

Die volgende riglyne is in die KABV-dokument (Onderwys, 2011) vervat:

Vraestel 2-formaat                          2 uur

Leesbegripstoets                                    15

Taal in konteks                                        15         Maak 30% uit van Taak 6 totaal.

Kritiese reaksie op letterkunde               10                  

Stap 2:  Hoeveelheid en opdeling van Barrett se denkvlakke per afdeling

Ons is van ’n Barrett-uitdeelstuk (Anon., 2011) voorsien.  Die dokument bevat ’n “formule” vir die opdeling van denkvlakke per groottotaal.  Ek het van die volgende verdelings gebruik gemaak:

20 punte   groottotaal

8 punte – vlak 1 en 2

8 punte – vlak 3

4 punte – vlak 4 en 5

30 punte   groottotaal

12 punte – vlak 1 en 2

12 punte – vlak 3

6 punte – vlak 4 en 5

Toepassing:

Afdeling A

20 punte

Vraag 1

4 punte – vlak 1 en 2

4 punte – vlak 3

2 punte – vlak 4 en 5

Die opdeling word as ’n basiese riglyn binne hierdie   afdeling gebruik.  Solank die opdeling   van die denkvlakke ooreenstem met die groottotaal indeling.

Afdeling B

30 punte

Vrae is tussen ’n prosa teks en ’n visuele teks   opgedeel.

Vraag 2

4 punte – vlak 1 en 2

4 punte – vlak 3

2 punte – vlak 4 en 5

Vrae is opgedeel tussen drie tekste.  Vrae word op woord- en sinvlak getoets.  Woordvlakvrae word binne die konteks van   die teks gevra.

Die volgende riglyne is tydens ’n opleidingsessie by   Hoërskool Pearson gedeel.  Dit het   betrekking op Afdeling B se tekste:

Kort prosa teks

Visuele teks

Langer prosa teks

Afdeling C

30 punte

12 punte – vlak 1 en 2

12 punte – vlak 3

6 punte – vlak 4 en 5

Vrae is opgedeel tussen poësie (twee gedigte) en prosa (twee   stukke). 

Poësie (15 punte)

6 punte

6 punte

3 punte

Prosa (15 punte)

6 punte

6 punte

3 punte

Stap 3:  Opspoor van die tekste

Hierdie stap het my die langste besig gehou.  Daar is baie faktore wat by die keuse van ’n teks in ag geneem moet word:

a)    Die KABV-dokument verskaf riglyne ten opsigte van die lengte van die tekste wat vir begripsvaardighede gebruik mag word. 

Seniorfase (Onderwys, 2011):

Graad 8 HT   Leesbegrip/soekleestekste (400 – 450 woorde)
Seniorfase (Onderwys, 2011):

Graad 8 EAT   Leesbegrip/soekleestekste (350 – 400 woorde)
 

b)    Watter tipe teks gaan gekies word?

Hier het ek my laat lei deur die eksamenriglyne wat aan die einde van 2015 gedeel is (Pieterse, 2015).  Hierdie riglyne is nou wel van toepassing op graad 12’s, maar dis ’n goeie standaard om leerders aan gewoond te maak.

Graad 12 HT (twee tekste)

Teks 1is ’n prosa teks en teks 2 is ’n visuele of grafiese teks.

c)    Inhoud:  Waaroor sal dié tekste handel?

Hierdie faktor het my vir ure besig gehou.  Ons is geneig om tekste te kies wat vir ons interessant is.  Hierdie keuse het ’n direkte invloed op die moeilikheidsgraad, leesbaarheid en verwysingsraamwerk benodig om die teks te verstaan.  Daarom het ek gekies om my tekste volgens ’n voorafbepaalde tema te kies.  Dit is maar net so, leerders vaar gemiddeld beter in vraestelle waar die tekste hul belangstelling prikkel en tot hul spreek.

Graad 8 HT:  Experi-Maatjies en Nadia en die Funky eksperiment
Ek kon keuses tussen die volgende tipes tekste uitoefen:  pamflet, boekomslag, werksaanbodadvertensies, fliekskermskote, boekresensies, ens.

Graad 8 EAT:  Monster-goggas van Koos Kombuis
Ek kon keuses tussen die volgende tipes tekste uitoefen:  resensies, uittreksels uit die boek, boekwinkelkatalogusse, Facebook-plasings, Facebook-lusmakers, ens.

d)    Die teks se moeilikheidsgraad en leesbaarheidsgraad moet nagegaan word sodat dit op die leerders se voorgeskrewe vlak is. 

Daar bestaan algoritmes (ondersoeke na teksdigtheid) om die leesbaarheid van ’n teks te toets.  Klinkende taal (http://acc.webweergawe.klinkendetaal.nl/users/sign_in# ) is ’n aanlyn-lisensiegedrewe program wat hulp by die skryf van leesbare tekste verskaf. 

Die moeilikheidsgraad word veral in ag geneem wanneer die teks vir die toets van taalstrukture gebruik word.  Die teks moet so gekies word dat die werk wat in die kwartaal gedek is, uit die teks getoets kan word.  As die teks te maklik is, gaan die taal wat getoets word te eenvoudig wees.  As die gekose teks te moeilik is, gaan die taal wat getoets word te ingewikkeld wees.  Hoe dan gemaak as jy steeds die betrokke teks wil gebruik?  Herskryf die teks of verwerk die inhoud.

Die opsporing van die perfekte teks kan met die beplanning van ’n opstel vergelyk word.  Wanneer die opstelbeplanning korrek voltooi word, is 80% van jou werk gedoen.  Met die regte tekste gaan jy nie sukkel om vrae vir jou vraestel op te stel nie.

Stap 4:  Stel ’n vraagbank op vir elke denkvlak

 Hierdie stap is van toepassing op Afdeling A en C.  Die doel is om die tekste vier keer deur te werk:  

a)        Die eerste lees van die teks word gedoen om ’n oorsig van die inhoud te kry en seker te maak dat daar geen onduidelikhede

           in die teks voorkom nie.

b)         Die tweede lees van die teks is om vrae vir Barrett se eerste twee denkvlakke op te stel.

c)         Die derde lees van die teks is om vrae vir Barrett se derde denkvlak op te stel.

d)        Die vierde lees van die teks is om vrae vir Barrett se vierde en vyfde denkvlakke op te stel.

Die idee is om alle moontlike vrae vir ’n betrokke denkvlak uit die teks op te stel.  Dit is belangrik dat al vyf van Barrett se denkvlakke verteenwoordig word.

Ons departementshoof het ons van ’n Barrett-uitdeelstuk voorsien.  Hierdie uitdeelstuk bevat sleutelwoorde, vraagtipes en moontlike bewoording van vrae.  Elke onderwyser in ons departement het en moet hierdie dokument gebruik wanneer begripsvrae vir formele assesserings opgestel word.

Dui die betrokke denkvlak en puntetoekenning by elke opgestelde vraag aan.  Wanneer ons ’n vraestel saamstel, word daar van ons verwag om die denkvlakke en puntetoekenning van elke afdeling in ’n tabel voor te stel.  Tydens moderering word hierdie uiteensetting nagegaan vir akkuraatheid.

Daar is egter ’n kinkel in hierdie kabel:  Dit is amper onmoontlik om hierdie vrae korrek op te stel as jy nie in besit is van die korrekte hulpbronne of begrip van Barrett se denkvlakke nie.  Hier volg ’n kort opsomming van die basiese beginsels van Barrett se denkvlakke wat ek geleer het onder leiding van my departementshoof:

a)    Daar bestaan so iets soos ’n goeie en ’n slegte Barrettbron.  Die bron wat ons gebruik se skrywer is onbekend.  Die skrywer het twee navorsingsbronne geraadpleeg, naamlik

Alcantara, R.D. Et al. 2003. Teaching strategies (for the teaching of the communication arts:  listening, speaking, reading and writing.) Fillipyne.

Louis Fridge. 1999. Focus on comprehension – Teachers Resources Books 1+2. Thomas Nelson & Sons Ltd. Chelten.

b)    Vrae oor ’n leesstuk, selfs tydens ’n klasbespreking of luistertoets en natuurlik veral in ’n toets of eksamen, moet Barrett se denkvlakke dek in die volgende verhouding:

Barrett   se denkvlakke

Vlak 1 en 2

Vlak 3

Vlak 4 en 5

10   punte

4/10

4/10

2/10

20   punte

8/20

8/20

4/20

30   punte

12/30

12/30

6/30

35   punte

14/35

14/35

7/35

c)    Vlak 1:  Letterlike begrip

Feite en antwoorde staan duidelik in die teks.  Leerders kan die antwoorde met behulp van soeklees opspoor.

d)    Vlak 2:  Herorganiseer

Inligting wat duidelik in die teks gelees kan word, moet op ’n ander manier aangebied word.  Die skryf van ’n opsomming in graad 9-12 is ’n goeie voorbeeld van ’n vlak 2 vraag.  Daar word van leerders verwag om gegewe inligting in hul eie woorde oor te dra, verskille en ooreenkomste uit te lig of inligting te lys.

e)    Vlak 3:  Afleiding

Leerders moet reageer op inligting wat nié direk in die leesstuk genoem word nie.  Daar word van die leerders verwag om self afleidings te maak oor geïmpliseerde betekenis.  Hierdie vlak is moeiliker omdat leerders oor die vermoë moet beskik om “tussen die lyne te kan lees”.  Leerders met beperkte verwysingsraamwerk of algemene kennis is geneig om te sukkel met hierdie denkvlak.

f)     Vlak 4:  Evaluering

Leerders moet elemente in die teks beoordeel.  Daar word van leerders verwag om te beoordeel of ’n element realiteit of fantasie, feit of ’n mening is.  Die geldigheid van ’n stelling moet ook oorweeg word.  Enige vrae wat van leerders vereis om taalkundige kommentaar te lewer, val binne hierdie vlak.  Soos met vlak 3 lê die moeilikheidsvlak daarin dat leerders hul evaluering moet kan motiveer deur na voorbeelde in die teks te verwys.

g)    Vlak 5:  Waardering

Leerders se persoonlike respons/reaksie word hier vereis.  Emosionele reaksie, die identifisering met die inhoud en geslaagdheid van beelde word gevra, maar met relevante motiverings.  Wat hierdie vraag so moeilik maak, is dat hedendaagse tieners nie in staat is om inhoudspesifieke opinies te lewer nie.  

Stap 5:  Kies nou die beste vrae uit die vraagbank om jou puntetelling op te maak.

Nou begin die pret.  Hersien die notas wat tydens stap 2 geneem is.  Maak seker dat die vraagkeuses elk van die vyf denkvlakke verteenwoordig.  Die gekose vrae moet in die chronologiese volgorde van die teks gerangskik word.  Barrett word slegs gebruik om alle denkvlakke te dek, maar word nie volgens hierdie vlakke gerangskik nie.

Samevatting

Kon ons vergelyk weereens die opstel van eksamenvraestelle met die skryf van ’n opstel:

Skryf van ’n   opstel

Beplanning

Eerste poging

Redigering

Finale skryfstuk

Opstel van ’n   vraestel

Stap 1 – 5

Eerste weergawe van die vraestel

Moderering van die vraestel

Geredigeerde vraestel wat reg is vir druk.

Barrett se denkvlakke is nie ’n onklimbare berg nie.  Wanneer die nodige beplanning vooraf deeglik aangepak en voltooi word, verander hierdie berg vinnig in ’n molshoop.  Nie net sal jy die opstelproses meer geniet nie, jy sal ook ongelooflik opgewonde wees vir jou kinders om jou vraestel te skryf.  Vra my, ek weet.  Tydens die Junie-eksamen het my kollegas gedink ek was van my lootjie getik.

Geskryf deur:           Marelize Swanepoel

                                    24 Junie 2016