Wenke vir nuwe onderwysers wat vanjaar die arbeidsmark betree

  1. Jou eerste jaar gaan glad nie ooreenstem met die verwagtinge wat tydens jou universiteitsjare by jou geskep is nie. Moenie instap met verwagtinge nie, vat elke dag soos dit kom.
     
  2. Wees opreg vriendelik met die kantoortannies en die afrolpersoneel, hulle help graag wanneer hulle voel hul word met respek behandel.
     
  3. Die veteraanonderwysers is ’n bron van waardevolle raad en ondersteuning. Maak twee bekers koffie en moenie skaam wees nie.
     
  4. Vergeet van jou kantoorhakkies en belê in drie pare Greencross-skoene: Sandale, swart stewels en tekkies. Jy gaan baie ure op jou voete deurbring en ’n paar somer-, winter- en sportskoene is net die dokter vir jou voete.
     
  5. Dames, trek professioneel aan om ernstig opgeneem te word. Wanneer jy by ’n hoërskool instap, is dit altyd beter vir leerders om jou ouer te skat as jonger.
     
  6. Jou eerste akademiese dag voor die kinders moet onvergeetlik wees. Jy moet vir die leerders “iets” gee wat hulle so gou as moontlik ná skool met hul ouers wil deel. Jy wil hê dat jy en jou klas vanaand bespreek moet word. Ek sê altyd vir my kinders dat ek wil hê hulle moet Afrikaans FAIL en alles wat hulle vir my doen, sien as ’n FAIL – First Attempt In Learning.
     
  7. Verander elke dag: jou metodes, die uitleg van jou klas, die pad wat jy skool toe bestuur, die volgorde waarin jy toetse merk, ens. Wanneer jou kinders vir jou vra waarom jy al weer die tafels geskuif het, antwoord jy: “Want ek kan!” Op die wyse raak jou lewe nie voorspelbaar, vervelig of eentonig nie. Moenie ’n voorspelbare teiken word vir die kinders wat jy onderrig nie.
     
  8. Kom uit jou klas uit wanneer jy die geleentheid kry. Moenie pouses alleen in jou klas om wens nie. Elke liewe onderwyser het moeilike dae en leerders waarmee hulle sukkel. Die personeelkamer help jou om te besef dat jy nie die enigste een is wat so voel nie. Jou skool se personeelkamer is vol jare se ervaring en strategieë.
     
  9. Bepaal jou persoonlike grense vroeg in jou loopbaan: wat is aanvaarbaar en wat is nie. Moenie jou waardes versaak ter wille van bevordering nie. Moenie toelaat dat jy oorlaai word nie, jy hoef nie vir elke versoek ja te sê nie. Weet wat jou kontrak sê oor jou verantwoordelikhede en pligte by die skool; sodoende kan jy raaksien wanneer jy misbruik word.
     
  10. Motivering is nie die aandra van ’n beloning nie. Motivering is nie om soos ’n polisieman agter jou leerders te staan nie. Ware motivering is om jou leerders emosioneel betrokke te kry by dit wat hulle moet doen. Wanneer iemand trots is op iets, wil hulle daarmee spog. Hulle sal nie spog met iets waarin hulle nie self baie werk ingesit het nie.
     
  11. Hou jou emosionele afstand van die leerders wat jy onderrig. Empatie is anders as simpatie. Deur jou empatie kan jy luister en hulle dan verwys na die SBST (School Based Support Team). Jou hoofdoel is om jou vak aan te bied.
     
  12. Identifiseer jou onderrigstyl en gaan groot. As jy met kleur klasgee, kry vir jou gekleurde bordkryt en witbordpenne. Gebruik helderkleurige plakkate, plakkers en koördineer die dekor van jou klas om dit uit te beeld. Ontwerp jou eie unieke styl en betower jou leerders daarmee.

https://afrikaans.com/leerhulp/ons-lief-onnies/

gallery/c9b84d8a3c56f8bd8d29318e21a152f4