SWANIES

Juffrou Marelize Swanepoel

Welkom by die realisering van 'n droom

Afrikaans EAT is my passie. Hierdie webwerf dien as die platform om my passie met ander te deel. Hoewel skoolkinders beslis sal baatvind met die inhoud, is my mede-HT&EAT-kollegas my eintlike gehoor. 

 

Swanies is 'n gratis aanlynbron waar onderwysers en leerders toegang het tot verskeie hulpbronne. My grootste doel is om soveel moontlik onderwysers en leerders te bereik en te help.

 

Dis moeilik om die gevoel te beskryf wanneer my Engelse kinders aankondig dat Afrikaans hul gunsteling vak is. Ek dink ek is een van die min onderwysers wat opgewonde raak rondom eksamens. Ek kan nie wag dat my kinders moet skryf sodat ek dit kan nasien nie. Ek raak lief vir hierdie kinders en deur my entoesiasme en kreatiwiteit raak my kinders lief vir Afrikaans.

 

Ek het ook nou betrokke geraak by onderwyseropleiding waar ek my benaderings en insigte met my mede-kollegas deel. My benadering fokus op metodiek. My doel is om vir ander te leer hoe die Afrikaanse olifant eintlik geëet moet word. Elke kortpad of metode dien as ’n spreekwoordelike happie wat die olifant eetbaar maak.

 

Afrikaans, as vak, is aansienlik makliker as wat tans die gevoel in ons skole is. Afrikaans en Wiskunde het eintlik baie ingemeen.  Beide werk met formules.  Hierdie formules dien as die sleutel om Afrikaans in die klaskamer te ontsluit.  Hierdie formules is wat my metodiek uniek maak. 

 

Ek glo dat ek gebore is om drie rolle te vervul:

 

1.    Ek is gebore om my man se vrou te wees.

2.    Ek is gebore om my dogtertjie se ma te wees.

3.    Ek is gebore om ’n Afrikaans juffrou te wees.